()/assets/images/11690/spring-van-lekkerkry-2019-06-040.jpg)

Die Maerua-inkoopsentrum in Windhoek huisves tans die enigste trampolienpark in Namibië, naamlik Planet Aero.
Planet Aero mag dalk klink soos die een of ander planeet uit ’n wetenskapsfiksie fliek, maar wees verseker dat hierdie park baie meer pret beteken.
Me. Hillétje Honiball is die eienaar van Planet Aero-trampolienpark. Sy sê die hele span verdien gelyke erkenning, want sonder hulle, sou sy die park se deure lankal moes sluit. “Ek het baie groot waardering vir elkeen wat hier werk, en hul bydrae is baie belangrik in terme van die park se sukses,” sê Honiball. Haar seun, Robert Honiball, is ‘n gimnas wat Namibië op verskeie geleenthede op internasionale vlak verteenwoordig het, en ook die meesterbrein agter die park. Hy het nog altyd ’n passie vir menslike beweging en gesonde liggaamlike aktiwiteite gehad. Dit was sý briljante idee om iets te skep waar mense van alle ouderdome hulself nie net kan geniet nie, maar terselfdertyd ‘n bietjie oefening inkry.
“Dis vir my belangrik dat kinders hulself met dinge besig hou wat hulle fisieke ontwikkeling bevorder,” het Robert gesê.
In 2017 is die park amptelik geopen.
Die personeel daar is almal bekwaam en entoesiasties om leiding te gee aan besoekers ten opsigte van die ontwikkeling van nuwe vaardighede. Twee van die werknemers het ook noodhulpkwalifikasies, ingeval iemand sou seer kry. Die bestuurder van die park, Damian Muller, sê hy is gek ook oor sy werk. “Ek wou nooit regtig in ‘n konvensionele kantoorruimte werk nie.” Volgens Muller is een van die struikelblokke om 'n afrigtingstegniek te vind wat elke kind se leervermoë die beste pas. Hy voeg by dit laat sy hart warm klop wanneer hy die opgewondenheid op kinders se gesigte sien wanneer hulle iets nuuts bemeester het.
Volgens me. Honiball word te veel tyd deesdae voor rekenaars, slimfone en ander elektroniese toestelle deurgebring. “Dit veroorsaak dat baie kinders vandag nie liggaamlik behoorlik ontwikkel nie,” sê sy. Die inisiatief is dus ideaal om hierdie tendens hok te slaan.
Met Planet Aero se bekostigbare lidmaatskapkaartjies het kinders daagliks toegang tot die park. Die park fasiliteer ook spanbousessies vir besighede en verjaardagpartyjies. Parkour-klasse en algemene fiksheidsklasse word ook aangebied. Hulle het ook spesiale pryse gedurende skoolure vir die kinders wat tuisonderrig ontvang.
“Die oumas en oupas is meer as welkom om ook ‘n bietjie te kom oefen,” meen me. Honiball.
Daar is streng reëls om die veiligheid van alle besoekers te verseker. Kinders onder die ouderdom van 5 jaar moet deur ‘n volwassene vergesel word en kinders tussen 5 en 18 jaar se vrywaringsvorm moet deur ’n volwassene onderteken word.